Gewonde Vlerke. Tania erf ’n bankrot vervoermaatskappy op ’n stuk bosveldplaas naby Warmbad. Haar voorneme is om dit te verkoop, maar stuk vir stuk word die mense op die stuk grond al hoe meer – mense wat sy jammer kry omdat hulle almal al ’n wond of twee in die lewe gekry het. Saam bring hulle die maatskappy weer op die been, maar daarmee saam kom ook liefde in Tania se hart wat nie beantwoord mag word nie en ’n giftige vroumens wat haar listigheid inspan om haar op Tania te wreek.
Onheilsvure. Nardus en Maryna was verloof en baie verlief, totdat die blonde Linda begin het om verwoesting te saai met bewerings van ontrouheid wat Nardus nie kon onthou nie. Nou is dit Maryna wat na ‘n ongeluk aan geheueverlies ly. Gaan sy van voor af vir Nardus lief word terwyl die verlede vir haar geslote is, of gaan Linda weer daarin slaag om vure van onheil aan die brand te steek?
Vlek op die horison. Jessica Louw gaan verpleeg by ‘n sendinghospitaal in die boendoes om meer te wete te kom oor haar vriendin, Yolandi, wat ook daar gewerk het, se klaarblyklike selfmoord. Groot is haar skok om die aantreklike Otto, die man met wie sy op troue gestaan het, as dokter daar aan t e tref. En hy verdink haar nog steeds van allerhande sondes. Nie alles is egter pluis by die hospitaal nie. Dan is daar suster Lindsay se vreemde optrede...
Gesluierde nagte. Lerina Strydom keer terug na Tulbagh nadat ‘n motorongeluk haar internasionale modelloopbaan kelder. Pas na haar terugkeer tref ‘n vernietigende aardbewing Tulbagh en in die warboel daarna kom sy tot haar skok agter haar buurman is Anton, die polisieman met wie sy voorheen ‘n verhouding gehad het. Roes ou liefde? Of het Anton intussen die woede waarmee hy hulle verhouding verbreek het verwerk? Alles kom tot ‘n punt toe ‘n misdadiger Lerina bedreig.
Godin van wraak. (Wraakgodin). Anina Enslin word wreed deur haar man mishandel. Sy wil skei, maar hy weier. Verskeie pogings van haar om weg te loop, word deur hom en sy bullebakwagte in die wiele gery. Asof dinge nie erg genoeg is nie, vind sy per ongeluk uit van sy duistere sake aangeleenthede, en hy gee opdrag dat sy vermoor moet word. Sy spoel uit die see uit, erg vermink, maar lewe. Vissers vind haar en neem haar na ‘n klein privaat kliniek daar naby. Gedurende haar herstel daar, raak sy lief vir dokter Erik Greyling, en hy vir haar, maar sy weier om dit te erken. In haar brein is daar net een allesoorheersende gedagte: om wraak te neem op Brian Enslin vir dit wat hy aan haar gedoen het. Die wraakgedagtes en pogings om dit uit te voer, ontneem haar van alle logiese en verstandige denke sodat sy by die kliniek padgee. Haar planne loop egter skeef, en hierdie keer staar sy die dood werklik in die oë. Sal sy kan wegkom? En indien wel, sal Erik haar ooit vir haar dwaasheid vergewe en nog ‘n kans gee? Sal sy kans kry om teenoor hom te erken dat haar liefde vir hom op die ou end baie soeter is as haar vroeëre wraakgedagtes?